Skooldrag

PBS se leerders is die advertensie van die skool en daarom is dit baie belangrik
dat hulle te alle tye netjies sal vertoon. As ons leerders trots is op hulle skool sal
hulle ook trots wees op hulle skooldrag.

SOMERSDRAG

Somersdrag word gedurende Januarie, Februarie, Maart en April gedra, asook gedurende September, Oktober, November en Desember.

Formele drag

Formele drag word op Maandae, Dinsdae en Vrydae, gedurende al vier kwartale,
gedra.

Dogters:
Maroen rok met ougoud kraag. Skoolrokke mag nie korter as 4 cm bo die knie wees nie. Dogters mag ‘n ski-pant onder die rok dra, maar die ski-pant mag nie onder die rok uitsteek nie. Sorg dus dat u dogter se rok lank genoeg is.
Seuns:
Grys kortbroek met poeierblou hemp. Geen donker blou hemp mag gedra word nie. Hemp is netjies ingesteek by broek. Grys kouse (PBS kouse met maroen en blou strepie) en swart skoene.

Wanneer leerders op uitstappies gaan, MOET hulle skoene dra by hulle skooldrag.
Dogters wit kort kouse en skoene.

Sportdrag

Sportdrag word op Woensdae en Donderdae gedra.
Seuns dra maroen PBS kortbroek en PBS hempie met moue (nie atletiekfrokkie nie). Dogters dra PBS sport rompie en PBS hempie.
Wanneer leerders op uitstappies gaan, MOET hulle tekkies by hulle sportdrag
dra. Seuns en dogters dra wit kort kouse by hulle tekkies.

WINTERSDRAG

Wintersdrag word slegs gedurende Mei, Junie, Julie en Augustus gedra.

Formele drag

Formele drag word op Maandae, Dinsdae en Vrydae gedra. Wintersdrag mag vanaf die begin van die tweede kwartaal gedra word, maar is verpligtend vanaf 1 Mei. Sorg dus reeds tydens die April vakansie dat u kind se wintersdrag in orde is. Volledige wintersdrag kan slegs op koue dae tot aan die einde van die derde kwartaal gedra word.

Dogters:
Maroen langbroek, poeierblou langmouhemp, SKOOLDAS, trui en (formele) PBS skoolbaadjie of windbreaker met wit kousies en swart skoene. Alternatief kan die maroen wintersrok, SKOOLDAS, trui en PBS skoolbaadjie of windbreaker met swart “tights” en skoene gedra
word.
Seuns:
Grys langbroek, poeierblou langmouhemp, SKOOLDAS, trui en (formele) PBS skoolbaadjie. Grys kouse (PBS kouse met maroen en blou strepie) en swart skoene.

Sportdrag

Sportdrag word op Woensdae en Donderdae gedra.
PBS skoolsweetpak met PBS sporthempie met moue (nie atletiekfrokkie nie).
Leerders kan ook ‘n koningsblou PBS fleece top onder hul sweetpak of saam met hul sweetpakbroek aantrek. Kort witkouse en tekkies.

Geen bont langmou hemde mag onder die sporthempie aangetrek word nie.
Onder geen omstandighede mag sport- en formele drag gemeng word nie.
Leerders mag bv. nie ‘n sweetpakbroek by hulle poeierblouhemp aantrek of ‘n sweetpaktop in plaas van die PBS baadjie nie. Onder geen omstandighede mag skoolskoene by sweetpakke of tekkies by formele drag gedra word nie.

Ons doen ‘n beroep op u as ouer om u kind met die korrekte skooldrag op die betrokke dae skool toe te stuur ten einde ‘n trots by die kinders te skep vir ons pragtige skool.

HARE

  1. Die haarlinte, rekkies en bolletjies vir die dogters se hare moet in skooldragkleure wees, naamlik maroen of ou-goud. “Alice bands” mag ook swart van kleur wees, slegs die dun soort word toegelaat.
  2. Dogters se hare mag nie oor die oë hang nie en moet geknip, of met eenvoudige haarknippies (silwer, bruin of swart) vasgesteek word.
  3. Geen permanente golwing (“perm”), kleursel of vreemde haarstyle vir beide dogters of seuns is toelaatbaar nie.
  4. Hare wat oor die dogters se krae hang, moet glad geborsel in poniesterte of vlegsels vasgemaak word.
  5. Seuns moet kort haarkante en agterkante hê, asook ‘n kort netjiese kuif, weg uit die oë.

Verskaffers van PBS skooldrag

Awerbachs
Tunika
PBS Klerebank (2de handse klere)